WinskoopToerprys:
Original price was: R98,500.00.R70,990.00Current price is: R70,990.00.
Datums:
Ons Herfs Balkanlandetoer in 2025!
Ons besoek: Kroasië, Slowenië, Montenegro, Bosnië-Herzegowina.
Hierdie toer is reeds ons 9de toer daarheen!
Hierdie lande wat almal vroeër deel van Jugoslawië was, het in die oorgangstyd voor 1990 na onafhanklikheid gestreef, maar het toe in oorlogstryde onder mekaar verval. Die ergste stryd het in Bosnië-Herzegowina gewoed van 1992 tot 1995. Vredesonderhandelinge is in November 1995 gefinaliseer. Daar het dus reeds meer as twee dekades verloop sedert die gewapende konflik in hierdie streek.
WinskoopToere is dankbaar om weereens vir Suid-Afrikaners die geleentheid te kan bied om hierdie interessante streek, met sy hartseer geskiedenis aan die een kant, en sy wonderlike natuurskoon aan die ander kant, te besoek. Daar is min sulke mooi plekke in die wêreld!
Hierdie toer is nou verder verfyn om jou 'n onvergeetlike vakansie te bied! Al die mooiste natuurgebiede is steeds by ons toerprogram ingesluit!
LET DAAROP DAT ALLE AANDETES (en ontbyte) EN ALLE TOEGANGSGELDE VAN GROEPSBESOEKE BY ONS PRYS INGESLUIT IS!
Beleef die ongerepte natuurskoon van die Balkanlande tydens herfs saam met ons!
WOENSDAG, 15 OKTOBER 2025
DAG 1 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
JOHANNESBURG
Ons vertrek met ‘n vlug van OR Tambo Lughawe in Johannesburg na Venesië (aandete met drankies en ontbyt tydens die vlug).
DONDERDAG, 16 OKTOBER 2025
DAG 2 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
BLED (SLOWENIË)
Ons kom in Europa aan (Italië). Ons luukse bus wag ons in op die lughawe in Venesië en ons vertrek na Bled in Slowenië. Die gerieflike luuksebus is die hele tyd tot ons beskikking. Met ons aankoms by die pragtige dorpie Bled met sy skilderagtige meer het al die toerlede die res van die dag vry om goed uit te rus na die nag op die vliegtuig, en om heerlik rond te wandel in die pragtige omgewing.
Bled, Slowenië
Ons oornag in ‘n pragtige hotel wat aan die Bled Meer geleë is, en vanaand eet ons gesellig saam.
VRYDAG, 17 OKTOBER 2025
DAG 3 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
BLED - BOHINJ MEER - UCANC (SLOWENIË)
Na ‘n smaaklike ontbyt besoek ons die pragtige Kasteel by Bled – hoog op ‘n berg, reg langs die meer. Hier leer ons ook meer van die ontstaan van die gletser-meer by Bled.
Bled, Slowenië
Later vandag ry ons met die tradisionele platboom-bote (Pletna-bote) na die eilandjie in die Bled Meer. Die Pletna-bote se geskiedenis word teruggevoer tot 1590, en hierdie bote word tans nog deur die plaaslike inwoners gemaak. Op die eiland kan jy die pelgrimskerkie Assumption of Mary besigtig of daar rondstap en koffie drink by die restaurant. Vanmiddag ry ons in hierdie pragtige natuurskoon na die Bohinj Meer daar naby.
Bohinj Meer, Slowenië
Van die Bohinj Meer af ry ons bus later na Ucanc (4 km) waar die Savica Waterval is. Hier stroom die water uit die rotse (van die Sewe Triglav Mere-Valleie af) in die walle van Komarca in die Savica Waterval – die beroemdste waterval in Slowenië.
Savica Waterval, Slowenië
SATERDAG, 18 OKTOBER 2025
DAG 4 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
VINTGAR GORGE – LJUBLJANA (SLOWENIË)
Na nog ‘n heerlike ontbyt, ry ons na die Vintgar Gorge daarnaby, waar ons ‘n onvergeetlike wandeling in die asemrowende ravyn gaan hê. (Elke toerlid stap teen sy eie pas, en besluit self hoe ver hy/sy wil stap.)
Vintgar Gorge, Slowenië
Hierna vertrek ons dan na die hoofstad van Slowenië, Ljubljana, en ons ontmoet ons plaaslike gids wat ons op ‘n interessante stadbesigtigingstoer in hierdie pragtige stad neem. Vanaand geniet ons ‘n heerlike Sloweense folklore-aand met 'n tipiese aandete, heerlike wyn, jolige musiek, pragtige volksdanse en oulike folkore-speletjies.
Ljubljana, Slowenië
Ons slaap in 'n lekker gerieflike hotel.
SONDAG, 19 OKTOBER 2025
DAG 5 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
PREDJAMA – SKOCJAN GROTTE – PORTOROZ (SLOWENIË)
Ons ry vanoggend eers na die unieke Renaissance kasteel, Predjama, naby Ljubljana. Hierdie besondere kasteel is in ‘n grot gebou! Hierna gaan ons van die belangrikste en mees fenominale grotte in die wêreld besigtig: die ongeskonde en beroemde Skocjan Grotte wat ook ‘n Wêrelderfenis- natuurgebied is. Hier verdwyn die Reka Rivier in die vallei en ons gaan ook al langs hierdie rivier ondergronds stap.
Skocjan Grotte, Slowenië
Na hierdie verbysterende ervaring ry ons na die Istriaanse kus. Ons slaap in 'n viersterhotel in Portoroz. Hier kan jy rustig in die ou gedeelte van die dorpie, wat op 'n skiereiland gebou is, rondstap, of met 'n plaaslike bus na die buurdorpie Piran ry.
MAANDAG, 20 OKTOBER 2025
DAG 6 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
PULA - ROVINJ (KROASIË) - PORTOROZ (SLOWENIË)
Na die afgelope dae se wonderlike natuurbelewenisse, gaan ons vandag op ‘n historiese uitstappie op die Istriaanse skiereiland. 'n Plaaslike gids neem ons eers op ‘n baie interessante stadbesigtigingstoer in die ou (Romeinse!) stad Pula met sy besonderse antieke amfiteater - die bes behoue Romeinse amfiteater in Europa.
Pula, Kroasië
Hierna ry ons terug na Rovinj waar ons die res van die dag gaan deurbring. Hierna ry ons na Opatija toe, waar ons vannag gaan oorbly.
DINSDAG, 21 OKTOBER 2025
DAG 7 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
PLITVICE NASIONALE PARK – OTOCAC (KROASIË)
Ons vertrek vroegoggend na die beroemde Nasionale Park Plitvice - een van die allermooiste natuurgebiede in Europa! Hier is sestien mere, ontelbare watervalle en strome water en ongeskonde, groen natuurskoon so ver jy kan sien! Ons spandeer die res van die dag hier (olv 'n plaaslike gids) en hou piekniek langs een van die mere - dis 'n onbeskryflike belewenis! Ons vaar ook met die elektriese (geluidlose) boot op een van die mere.
Plitvice Nasionale Park, Kroasië
Na hierdie vyfsterdag, ry ons per bus na ons hotel in Otocac. Dit is 'n gesellige driester-familie hotel.
WOENSDAG, 22 OKTOBER 2025
DAG 8 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
ZADAR - TROGIR - SPLIT (KROASIË)
Vandag begin ons antieke stadjies in Kroasië besoek. Eers ry ons na die antieke stad Zadar en onderneem 'n stadbesigtigingstoer onder leiding van 'n plaaslike gids.
Zadar, Kroasië
Die volgende antieke dorpie wat ons besoek, is Trogir. Hierdie dorpie is tussen die 13de en 15de eeu gebou. Dit is vandag ook 'n Wêrelderfenisgebied. Hierna ry ons dan na Split - die tweede grootste stad in Kroasië.
Split, Kroasië
Ons ry direk na ons luukse viersterhotel buite Split waar ons vanaand oornag. Na 'n smaaklike aandete gaan ons nog vir 'n wyle per bus na die ou stad. Dis 'n onvergeetlike ervaring om die ou Paleis so verlig in die aand te beleef!
DONDERDAG, 23 OKTOBER 2025
DAG 9 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
SPLIT - DUBROVNIK - STON (KROASIË)
Vanoggend onderneem ons 'n stadsbesigtigingstoer van Split se interessante ou stad onder leiding van 'n plaaslike Engelssprekende gids. In Split is die besondere Paleis van Keiser Diocletianus, wat uit die 4de eeu behoue gebly het.
Diocletianus se paleis, Kroasië
Na afloop van die toer het ons ruim vrye tyd om hier deur te bring. In die antieke paleis sing 'n bedrewe Klapa- mannekoortjie in die mooiste akoestiese ruimte! Na ons heerlike besoek aan Split, vertrek ons Dubrovnik toe, en op pad besoek ons die stadjie, Ston, met sy indrukwekkende, antieke stadsmuur.
Ston, Kroasië
In Dubrovnik gaan ons die volgende twee nagte in 'n pragtige hotel langs die see oorbly. Daar is onder andere 'n pragtige swembad, en as jy verkies, kan jy ook in die see swem.
VRYDAG, 24 OKTOBER 2025
DAG 10 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
DUBROVNIK (KROASIË)
Ons begin die dag met 'n interessante stadsbesigtigingstoer van Dubrovnik te voet onder leiding van 'n plaaslike gids. Na die besigtigingstoer het toerlede vrye tyd om die stad op hulle eie te verken. Ons gee vandag aan elke toerlid 'n subsidie van 70 kuna, wat jy bv. kan gebruik om op die stadsmure te gaan loop of om met die kabelkar teen die berg op te ry. Bo-op die berg het mens 'n wonderlike uitsig oor die stad en die Adriatiese kus. Die stappers onder ons kan hier ook op die rand van die berg 'n hele ent gaan stap en die besondere natuurtonele indrink. (Bo-op die berg is 'n restaurant waar mens kan ontspan en 'n drankie kan geniet.)
Dubrovnik, Kroasië
Ons ontmoet mekaar in die middag weer by die ou hawe en onderneem dan almal saam 'n gesellige bootvaart oop die see. Hierna neem die bus ons na ons hotel. Vanaand ry ons na ‘n ongerepte plasie waar ons ‘n baie besondere en beslis onvergeetlike folklore-aand met die heerlikste eg Kroatiese kos, wyn en Klapa-musikante uit die boonste rakke geniet! Ons slaap vanaand weer in dieselfde hotel.
SATERDAG, 25 OKTOBER 2025
DAG 11 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
KOTORBAAI - BUDVA (MONTENEGRO)
Ons vat vandag die pad Montenegro toe en ons ry na Kotorbaai. Ons ry met die ou pas tot bo-op die berg om Budva en sy vier baaie te bewonder. (Hierdie belewenis om met die ou pas tot bo-op die berg te ry, is uniek, en sal jy beslis net tydens 'n reis van WinskoopToere kry!)
Kotorbaai, Montenegro
Vanaand oornag ons naby Budva in 'n gesellig viersterhotel.
SONDAG, 26 OKTOBER 2025
DAG 12 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
SVETI STEFAN - SKADAR MEER (MONTENEGRO) - MOSTAR (BOSNIË-HERZEGOWINA)
Vanoggend gaan ons eers mooi foto’s neem by die beroemde eilandjie Sveti Stefan waar Novak Djokovic en sy bruid getrou het.
Sveti Stefan, Montenegro
Ons ry dan na die Skadar Meer waar ons 'n twee-uurlange bootrit onderneem. Ons vaar deur 'n groot gedeelte van die meer in die Skadar Meer Nasionale Park. Na ons bootvaart kuier ons gesellig saam in 'n buitelug- restaurant en geniet daar middagete.
Skadar Meer Nasionale Park, Montenegro
Ons ry met ons bus dan verder na die die mooi stad Mostar, in Bosnië-Herzegowina. Ons bly vannag in hier oor in 'n viersterhotel - sommer stap afstand van die gewilde Mostar-brug.
MAANDAG, 27 OKTOBER 2025
DAG 13 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
MOSTAR - SARAJEVO (BOSNIË-HERZEGOWINA)
Ons oggend begin met 'n interessante stadsbesigtigingstoer van Mostar deur 'n plaaslike gids. Dis hier waar die eeue-ou brug tydens die onlangse oorlog in Jugoslawië verwoes is. Hierna het almal vrye tyd om al die winkeltjies en stalletjies te verken. (Dis 'n heerlike plek vir inkopies - sê die dames!)
Mostar, Bosnië-Herzegowina
Teen 14:00 vertrek ons na die hoofstad van Bosnië-Herzegowina, Sarajevo. Ons woon vanaand hier 'n Bosniese Folklore-aand by en eet 'n tipiese Bosniese aandete. Ons slaap in die hartjie van Sarajevo vannag.
DINSDAG, 28 OKTOBER 2025
DAG 14 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
SARAJEVO (BOSNIË-HERZEGOWINA) - NOVA GRADIŠKA (KROASIË)
Vanoggend stap ons saam met 'n plaaslike gids deur die ou stad van Sarajevo. Dan het almal vrye tyd om in die winkels rond te loer! Later ry ons na die aangrypende oorlogstonnel by Butmir.
Sarajevo, Bosnië-Herzegowina
Dan vertrek ons na Kroasië - na die stad Slovinski Brod. In Slovinski Brod gaan ons eers oor die grens, en bly dan aan die Kroatiese kant sodat ons die volgende oggend direk na Zagreb kan vertrek.
WOENSDAG, 29 OKTOBER 2025
DAG 15 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
ZAGREB (KROASIË)
Ons vertrek vanoggend na Zagreb, die hoofstad van Kroasië, waar 'n Engelssprekende gids weereens op ons wag om ons deur die interessante stad te neem. Hierna geniet ons vrye tyd in die stad.
Zagreb, Kroasië
Ons vertrek dan na Otocec in Slowenië, een uur buite Kroasië, waar ons vanaand oornag. Vanaand eindig ons toer met 'n spesiale ete.
DONDERDAG, 30 OKTOBER 2025
DAG 16 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
ZAGREB LUGHAWE (KROASIË)
Ons vertrek vanoggend douvoordag na Kroasië se lughawe (ZAG) om 09:05 na Doha te vertrek.
VRYDAG, 31 OKTOBER 2025
DAG 17 VAN ONS HERFS BALKANLANDETOER
JOHANNESBURG
Ons land op OR Tambo Lughawe - verryk deur hierdie baie besondere belewenis van die mooiste dele in Europa!
Ons finale toerprys is R70,990.00* per persoon wat deel.
Enkeltoeslag is R12,500.00 per persoon.
*Teen wisselkoers van R20.50 = 1 Euro
Ons toerprys sluit al die volgende in:
- Ekonomiese klas retoervliegkaartjies.
- Alle lughawe- en brandstofbelasting (soos by kwotasie).
- Hotel-akkommodasie (met alle onbyte en aandetes) in twin- dubbelkamers met eie badkamers in gerieflike driester- en viersterhotelle - die beste wat hierdie streek kan bied, maar wat steeds bekostigbaar is.
- Luukse busvervoer vir die hele tydperk.
- Stadsbesigtigingstoere per bus en te voet soos gemeld.
- Ervare plaaslike (Engelssprekende) gidse in die groot stede.
- Die gerief van kwaliteit radio'tjies (oudiogidse) tydens besigtigingstoere.
- 'n Verantwoordelike en goed toegeruste span van WinskoopToere toerleiers, wat persoonlik oral saamtoer, veel waarde toevoeg en 'n heerlike, gerieflike toer verseker!
- Die bootvaart op die Bled Meer.
- Die Sloweense folklore-aand met aandete, wyn en musiek, danse ens. in Ljubljana.
- 'n Subsidie van 70 kuna tydens ons besoek aan Dubrovnik.
- Die bootvaart op die see by Dubrovnik.
- Die Kroatiese folklore-aand met aandete, wyn en Klapa-sangers buite Dubrovnik.
- Die bootvaart op die Skadar Meer.
- Die middagete in Virpazar.
- Die Bosniese folklore-aand met aandete, wyn en Bosniese musiek in Sarajevo.
- Fooi vir die busbestuurder (€30).
- Bled Kasteel.
- Vintgar Gorge (indien beskikbaar).
- Predjama Kasteel.
- Skocjan Grotte.
- Plitvice Nasionale Park (bootvaart op die meer ingesluit).
- Die Oorlogtonnel in Sarajevo.
- Diocletianus se tempelkelder in Split.
- Pula Amfiteater
- Visumkoste.
- Mediese versekering.
- Bykomende lughawebelasting (volgens wisselkoers).
- Middagetes.
- Alle ander toegangsgelde (indien enige - alle groepsbesoeke is reeds ingesluit).
- Fooitjies en uitgawes van 'n persoonlike aard.
Hoe bespreek ek my plek?
Deur die deposito van R6,000.00 pp
- (verwysing: HBAL25/Jou Voorletters en Van bv. HBAL25/J.Coetzee) –
in die volgende bankrekening te betaal:
WinskoopToere ABSA Rekeningnommer: 9343 1803 92
NB!! Stuur jou inbetalingstrokie na: droom@winskooptoere.co.za
(Maak asb seker jou e-pos bevat jou e-posadres/kontakbesonderhede en vir watter toer jy inskryf)
Nadat ons jou deposito ontvang het, sal ons aan jou ‘n inskrywingsvorm stuur.
Elke toerlid moet asb die vorm invul en so spoedig moontlik na ons terugstuur.