WinskoopToerprys:
R51,990
Datums:
Aantal plekke:
16 plekke
Beleef die pragtige natuurskoon van Noord-Italië in die heerlike somer!
Met ons fantastiese Noord-Italië toer kry jy ‘n besonderse ervaring van hierdie land – jy beleef die beste van hulle kultuur, natuur, kos en kuns!
DAG 1 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, DINSDAG 4 JUNIE 2024
JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA
Ons vertrek vanaand met ‘n Emirates-vlug vanaf OR Tambo Lughawe in Johannesburg via Dubai na München . (Tydens die vlugte geniet ons aandete en ontbyt.) Daar is ‘n beperkte aantal Kaapstadvlugte op aanvraag beskikbaar.
DAG 2 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, WOENSDAG 5 JUNIE 2024
München
Ons land in München. Daar wag ons luuksebus op ons en neem ons dan na Innsbruck, die pragtigste stad in die hartjie van die Tiroolse Alpe.
DAG 3 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, DONDERDAG 6 JUNIE 2024
Colfosco
Ons vertrek taamlik vroeg vanoggend en ons ry dan Italië binne. Ons ry oor die Brennerpas en die beroemde Europa-Brug, wat oor die Wipp-vallei naby Innsbruck gebou is (777 meter lank) en wat die tweede hoogste brug in Europa is.
By die bergdorpie Colfosco is verskeie maklik begaanbare heuwel- en bergpaadjies en hier stap ons vandag rustig in die pragtige vrye natuur terwyl ons die verruklike uitsig geniet. So hoog in die berge is daar selfs ‘n restaurantjie of twee waar ons koffie kan drink… Ons slaap die volgende twee nagte in die hartjie van die pragtige Trento.
DAG 4 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, VRYDAG 7 JUNIE 2024
Bolzano & Trento
Ons is vanoggend op pad na Bolzano. Ons ry deur die mooie Val Gardena gebied en op pad daarheen kuier ons ‘n bietjie in die mooi plekkie, Ortesei. Bolzano (Bolzen in Duits) is die hoofstad van die provinsie Suid-Tirool in Noord-Italië. Dit staan bekend as ‘n Duits-sprekende provinsie (25% van die inwoners praat Duits, maar in sommige dele is dit 90%) en die meeste mense is hier tweetalig.
Ons ry met die Renon kabelkar die steil Virgolo/Virgl berg op. Daar bo geniet ons ook ‘n baie besonderse treinrit in ‘n stokou smalspoor-treintjie terwyl ons die asemrowende uitsig geniet. Later gaan ons onder in die dorp Bolzano die Ou Stad met sy baie winkeltjies platstap!
Na die avontuurlike oggend ry ons terug na Trento om die stadjie verder te verken.
DAG 5 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, SATERDAG 8 JUNIE 2024
Garda Meer & Valpolicella
Ons ry nou direk na die grootste meer in Italië, die Garda Meer. As dit vanoggend mooi weer is, gaan ons eers in Riva del Garda rondwandel. Dan begin ‘n heerlike avontuur wanneer ons na die skilderagtige dorpie Malcesine – ook teen die Garda Meer geleë – ry. In hierdie wonderlike natuurskoon het hulle ‘n kabelkar gebou wat tot bo-op die berg Monte Baldo strek en wat 360° roteer sodat mens ‘n uitsig oor die hele gebied kan hê. Hier gaan ons groep na bo ry. Na ons kabelkarrit het ons nog heelwat tyd om die mooi dorpie ook te besigtig.
Ons gaan as groep die besonderse ou kasteel wat bo alles troon, ook besoek!
Ons ry dan verder suid, want vanaand gaan ons in die pragtige wynstreek Valpolicella oornag. Hierdie streek se wyn was alreeds in die Romeinse tyd baie gewild. Hopelik is daar vir ons ‘n geleentheid om van hierdie besonderse wyn te proe! Hier gaan ons wel die geleentheid kry om rustig tussen die wingerde te wandel en die skoonheid in te drink.
Ons slaap vanaand in ‘n familie-hotel in Verona en ons groep eet aandete gesellig saam in ‘n oulike restaurant.
DAG 6 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, SONDAG 9 JUNIE 2024
Sirmione & Verona
Vanoggend onderneem ons ‘n plesierrit na die pragtige Sirmione om die Garda Meer te besoek. Hier het ons almal vrye tyd om rustig deur die interessante dorpie te loop en die antieke kasteel te besigtig.
Ons toergroep vertrek dan na Verona. Verona is een van die statigste stede in Italië, met ‘n wye verskeidenheid antieke geboue, waarvan baie heel goed behoue gebly het.
Verona se Romeinse amfiteater is byvoorbeeld 2,000 jaar oud en die brug, Ponta Pietra, wat oor die Adige Rivier gebou is, dateer uit die eerste eeu v.C.! Die aanskoulike, grootse katedraal van Verona is een van die wonderlikste katedrale in Europa en tog stap baie toeriste wat die stad vlugtig besoek, daar verby sonder om dit te bewonder! ‘n Toergids neem ons op ‘n stadsbesigtigingstoer sodat ons baie van die beroemde besienswaardighede in die stad kan sien en daarna het die groep vrye tyd in die stad.
Ons slaap vanaand in dieselfde Verona hotel.
DAG 7 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, MAANDAG 10 JUNIE 2024
Bergamo & Como
Gesoute reisigers beskou Bergamo as een van die mooiste stede in Italië en eintlik is dit nog taamlik onbekend onder toeriste. Hierheen is ons vandag op pad… In Bergamo gaan ons die gees van die stad beleef en met die klein rooi tandrattreintjie na die boonste gedeelte (Città Alta) ry om die werklike Ou Stad te sien.
Na hierdie heerlike ondervinding ry ons na die dorp Como, aan die Como Meer. Ons stap kuier-kuier in hierdie skilderagtige dorpie waar heelwat van die beroemdes se vakansiehuise is! Ons eerste voorsmakie van die skilderagtige Como Meer gaan sekerlik tot gevolg hê dat ons daar sommer tot skemer gaan kuier!
Ons slaap die volgende drie nagte in hierdie dorp.
DAG 8 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, DINSDAG 11 JUNIE 2024
Lugano
Vanoggend besoek ons Lugano. Dit is die grootste stad in die Italiaanssprekende suide van Switserland en lê aan die voet van die Switserse Alpe. Die streek Lugano word omring deur die Lugano Pre-Alpe. Beide die westelike en oostelike dele van die munisipaliteit deel ‘n internasionale grens met Italië. Lugano lê reg langs die Lugano Meer. Die middestad is aan die oewer van die meer geleë net wes van waar die rivier Cassarate in die meer invloei.
Die Monte Brè Funikulêr bestaan sedert 1908 en neem ons na die spits van Monte Brè, ook bekend as die sonnigste berg in Switserland. Dit word gekenmerk deur asemrowende uitsigte van die Lugano Meer en omliggende berge. Bo-op die berg kan jy ‘n entjie gaan stap, ‘n piekniek hou of by ‘n restaurant ietsie drink of eet.
Lugano se uitsig oor die meer, omring deur berge, is werklik pragtig. En die historiese ou stad is ‘n skatkis vol juwele wat wag om ontdek te word. Die Santa Maria Degli Angioli katedraal is ‘n moet om te besoek en spog met fresko’s uit die 16de eeu. Een van die fresko’s is ‘n massiewe uitbeelding van die kruisiging. Dit is Switserland se bekendste Renaissance-fresko.
Na ‘n heerlike wyle hier vertrek ons terug na Como.
DAG 9 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, WOENSDAG 12 JUNIE 2024
Bellagio
Kan jy jou voorstel wat ‘n genot dit is om met die veerboot van Como na Bellagio te vaar? Ons vaar twee ure lank op die pragtige Como Meer – ‘n ervaring wat jy sekerlik vir altyd sal onthou!
In Bellagio self spandeer ons ‘n hele paar genotvolle ure!
DAG 10 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, DONDERDAG 13 JUNIE 2024
Stresa & Orta
Die pragtige veertiende-eeuse klooster Santa Caterina del Sasso naby Stresa word vandag eerste besoek. Dit is op die randjie van ‘n rots gebou en dit lyk of dit halfpad in die meer hang.
Daarna ry ons na die Orta Meer waar ons die Wêrelderfenisgebied Sacro Monte (die Heilige Berg) besigtig. Hier stap ons die berg op na die reeks kapelletjies vanwaar ons die wonderlikste uitsig oor die Orta Meer het. Die Sacro Monte is ‘n aanbiddingskompleks wat ook deel van die Wêrelderfenis hier vorm. Daarna stap ons in die dorpie Orta rond.
Ons slaap die volgende twee nagte in hierdie pragtige omgewing. Ons hotel beskik o.a. oor ‘n lieflike park met uitsigte oor die Varese Meer, en ‘n kunsgalery.
DAG 11 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, VRYDAG 14 JUNIE 2024
Isola Bella & Stresa
Ons bus neem ons vandag na die dorpie Stresa wat aan die Maggiore Meer lê. Dit is ‘n klein dorpie met net 5,000 inwoners. Dan besoek ons die mooie eiland Isola Bella en oppad soontoe onderneem ons ‘n idilliese veerbootvaart in die verruklike omgewing!
Op die eiland het die invloedryke Huis van Borromeo in 1632 begin om ‘n pragtige paleis op te rig. Na vele teenslae (waaronder die pes in die middel van die sewentiende eeu) is dit uiteindelik voltooi. In 1671 is die pragtige tuine ook in gebruik geneem. Ons ontmoet ons gids by die paleis en geniet ‘n heerlike tydjie hier.
Later, wanneer ons terug is in Stresa, gaan ons heerlik rondloop in die oulike dorpie.
DAG 12 VAN ONS NOORD-ITALIË TOER, SATERDAG 15 JUNIE 2024
Milaan
Na ‘n rustige oggend by ons pragtige hotel, vertrek ons na Milaan vanwaar ons van Milaan se lughawe af terug na Suid- Afrika vertrek.
DAG 13 VAN ONS ITALIË TOER, SONDAG 16 JUNIE 2024
Johannesburg, Suid-Afrika
Nou, aan die einde van hierdie wonderlike toer, sal jy weet: “Ek is nou anders as toe ek gekom het. Ek het soveel beleef, ek is verryk, en ek neem dit saam met my vir altyd!”
Die WinskoopToerprys vir hierdie toer is:
R51,990.00*
per persoon wat deel!
Enkeltoerslag is R7,000.00 per persoon.
*Teen wisselkoers van 1 Euro = 20 Rand.
Ons Winskooptoerprys sluit AL die volgende in:
- ‘n Ekonomiese klas retoervlugte. (‘n Beperkte aantal Kaapstadvlugte op aanvraag beskikbaar.)
- Lughawebelasting behalwe wat mag bykom vanweë wisselkoersverandering.
- Luuksebusvervoer (met lugverkoeling, ens.) vir die volle tydperk.
- Akkommodasie in twin-kamers (bed en ontbyt) in drie- en viersterhotelle.
- Aandetes of ‘n subsidie van €15 per persoon vir ‘n aandete elke dag.
- Twee toerleiers vergesel die toer en neem met kundigheid en vriendelikheid die leiding. (Wees ook gerus: Daar is altyd ‘n ekstra persoon wat in geval van nood kan agterbly en noodsaaklike hulp verleen.)
- Bootvaarte na Bellagio en Isola Bella.
- Kabelkar- en treinrit by Bolzano.
- Die Monte Brè Funikulêr by Lugano.
- Kabelkar en kasteel by Malcesine.
- Wynproe en besigtigingstoer in Verona.
- Toegangskaartjies na die Sirmione Kasteel.
- Treinrit in Bergamo.
- Begeleide toer in Isola Bella se paleis.
- Toegangskaartjies vir die Santa Caterina del Sasso klooster en die Sacro Monte kompleks.
- Die gebruik van ons hoë gehalte radio’tjies (oudiofone) sodat almal die gidse ewe goed kan hoor.
- Fooi vir die busbestuurder (€22 per persoon).
Die toerprys sluit nie die volgende in nie:
- Middagetes.
- Visumkoste (slegs Schengenvisum).
- Reisversekering (LW: Sommige reisversekeringsopsies vereis dat jy dit moet aktiveer binne 24h of 48h nadat jy jou deposito aan WinskoopToere betaal het. Kontak ons vir meer inligting).
- Ekstra lughawebelasting weens wisselkoersveranderinge.
- Enige ander toegangsgelde (volgens toerlid se eie keuse).
- Fooitjies en uitgawes van persoonlike aard.
Om jou plek te bespreek:
(LW: Die bankrekeningnommer vir deposito’s het verander)
Hoe bespreek ek my plek?
(LW: Sommige reisversekeringsopsies vereis dat jy dit moet aktiveer binne 24h of 48h
nadat jy jou deposito aan WinskoopToere betaal het. Kontak ons vir meer inligting)
Deur die deposito van R6,500.00 pp – (verwysing: NITA24/Jou Voorletters en Van bv. NITA24/J.Coetzee) – in die volgende bankrekening te betaal:
WinskoopToere
ABSA
Spaarrekening
9343 1803 92
** NB!! Stuur u inbetalingstrokie na: admin@winskooptoere.co.za
(Maak asb seker jou e-pos bevat jou e-pos adres/kontakbesonderhede)
Nadat ons jou deposito ontvang het, sal ons met jou in verbinding tree.
Covid-19 inligting:
Daar is tans geen inenting-vereistes in Europa nie.
—————-
WinskoopToere sal streng voldoen aan alle gesondheidsriglyne en -vereistes van COVID-19 (bv inentings, maskers, sosiale afstand) sou dit verander.
—————-
Vir meer besonderhede tree gerus met ons kantoor in verbinding.
**WinskoopToere behou die reg om die toerprogram en -prys te wysig.