fbpx skip to Main Content

Hoe om te pak vir jou oorsese reis!

Hoe om te pak vir jou oorsese reis!

Dit is ‘n moeilike taak om te pak vir jou oorsese reis. Gaan dit warm wees? Gaan dit koud wees? Hoeveel pare skoene het ek nodig?

‘n Groot fout wat ons dikwels maak is om dan liewer te veel te pak, met die houding van ‘wat as’. ‘Wat as ek hierdie gaan nodig kry?’. ‘Wat as dit die heeltyd koud is?’. ‘Wat as my skoene my begin seermaak?’. Pak altyd eerder minder as meer – dis jy wat jou tas moet dra.

Hier is ‘n paar wenke van noodsaaklikhede om in te pak:

  • Gemaklike skoene (dit moenie die geleentheid hê om jou seer te maak nie!) – niemand gee om of jy die mooiste (en ongemaklikste!) sandale of die gemaklikste paar tekkies aanhet nie – doen die regte ding: kies die gemaklike paar! Jy gaan defnitief baie stap, en seer voete moenie afbreek aan jou ervaring oorsee doen nie.
  • ‘n Reënbaadjie – een wat jy sommer heeltyd by jou kan hou ingeval dit reën.
  • Medisyne – moenie ‘n hele Noodhulpkassie inpak nie, maar pak dalk ‘n hoofpyn- of maagpynpilletjie of medikasie vir jou spesifieke kwale.
  • ‘n Geldsakkie – hierdie is amper soos die outydse ‘moonbags’, maar dit werk. Kry vir jou ‘n sakkie wat om jou nek, ONDER jou hemp hang. Jou paspoort en geld bly dan naby jou hart en jy weet dit is veilig.
  • Pak ‘n ekstra paar klere in jou handbagasie/rugsak indien jou tas nie jou eindbestemming bereik saam met jou nie. Dan het jy ten minste die noodsaaklikhede vir tot jou tas jou weer bereik.
  • ‘n Serp is baie prakties – selfs in die somer. Bondel hom op vir ‘n kussing, gebruik hom as ‘n sjaal in die Sistynse kapel as jy kaal skouers het, rond jou uitrusting af op ‘n mooi manier.
  • Waspoeier – ‘n klein sakkie met waspoeier is net genoeg om jou onderklere of klere vinnig in die hotel te spoel – so jy kan minder klere inpak!
  • Teesakkies of Cappucino sakkies – jy kan maklik by ‘n motorhawe ‘n koppie kookwater kry en jou heerlike koppie tee of eie cappucino drink. Sommige hotelle het ook ‘n ketel in die kamer of jy kan vir ontvangs vra vir kookwater. ‘n Fles of ‘n travel mug werk ook lekker – dan kan jy sommer ‘n take away tee/koffie by ontbyt maak.
  • ‘n Powerbank – veral as jy jou foon gebruik as ‘n kamera of gps ook. Dit beteken jy kan enige tyd gou jou foon laai en is baie handig wanneer jy reis,

Wat om by die huis te los:

  • Jou haardroër – meeste hotelle het ‘n haardroër en niemand gaan omgee as jy een slegte-hare-dag het tydens jou reis nie.
  • Jou hakskoene – ja dis waar, soms voel mens net ekstra lekker met daai mooi paar hakskoene aan, maar jy gaan spyt wees aan die einde van die dag/aand en dit gaan waarskynlik ‘n blywende effek op jou voete hê. Onthou jy is meestal aan die stap en op jou voete terwyl jy reis.
  • Jou handdoek – meeste hotelle het lekker vars handdoeke. Moenie jou tas swaarder maak met ‘n handdoek wat later nat en onvars is nie.
  • Jou kussing – al is dit baie lekker om op jou eie kussing te slaap, gaan dit defnitief later ‘n las raak om dit die heeltyd rond te dra (aanvanklik gaan hy dalk in jou tas pas, maar soos die toer aangaan gaan jy hom defnitief apart moet ronddra.) Indien die kussing by die hotel nie voldoende vir jou is nie, vra by ontvangs vir nog ‘n kussing of twee.
  • Te veel klere – moenie probeer om klere vir elke dag te pak nie. Dit gaan jou tas onnodig vol en swaar maak en daar is geleentheid in hotelle om jou klere te spoel. Niemand gaan opmerk indien jy ‘n hempie twee maal op dieselfde reis aantrek nie.
  • Jou groot beursie – Jy’t nie jou Clickskaart en al daai brons sente met die mossies op nodig oorsee nie. Kry vir jou ‘n klein beursie waarin jy jou bankkaart en geld kan sit – en bêre jou ekstra bankkaart in jou tas.
  • Jou groot handsak – hoe groter jou handsak, hoe meer goed sit jy daarin en hoe swaarder dra jy – en dikwels gebruik jy nie eers naastenby alles daarin nie! Kry vir jou ‘n klein handsakkie wat die volgende bevat: klein beursie, kamera/selfoon, lipstiffie ens, 500ml water of kleiner, klein sambreel, notaboekie en pen. Dis al wat jy nodig het vir die dag!
  • Jou groot sjampoebottels en ander onnodig groot toiletware. Gooi dit voor jou reis in klein houertjies wat net genoeg is vir jou tyd oorsee.
  • Jou volledige grimeerkissie – vat net die noodsaaklike grimering saam. Vul ‘n klein sakkie met ‘n maskara, onderlaag en/of ‘n lipstiffie.
  • Jou hele juweelkissie – kies vir jou so 3 pare oorbelle of juwele (ook nie jou kosbaarste juwele nie!) om saam te neem en los die res by die huis – nie net het jy ‘n risiko om dit te verloor nie, maar dit vat onnodige plek.

Wat het ek nodig op die vliegtuig (en dus in my handbagasie):

  • Gesigseep en room, tandeborsel en tandepasta, grimering, Dove roll on/speed stick. Plus enige medikasie natuurlik. Wetwipes is nogal gerieflik.
  • ‘n Warmding
  • ‘n Ekstra stel klere as jy wil
  • Jou warm klere as dit koud is waar jy afklim
  • ‘n Boek
  • Selfoonlaaier – vandag se vliegtuie raak al ouliker en dikwels kan jy nou al jou foon op die vliegtuig laai.

Nog ‘n wenk: rol jou klere op en pak dit in klein plastieksakkies in. Dit bespaar plek in jou tas en hou jou tas baie netjieser tydens jou reis.

Kyk hierdie oulike video vir verdere wenke oor hoe om in ‘n kleiner tas te pak. Onthou dat jy tydens jou reis die heeltyd jou tas moet dra en hanteer. Hoe kleiner en ligter, hoe makliker vir jou.

Loading

Back To Top