Toerprys:
Original price was: R92,000.00.R85,000.00Current price is: R85,000.00.
Datum:
Plekke nog beskikbaar:
41 plekke
"'n Wonderlike ervaring van die Lae Lande!"
Kliek hier om te bespreek
NAMIBIË-TOERLEDE: KONTAK ASB. ONS KANTOOR DEUR DIE 'STEL JY BELANG?'-VORM HIER REGS IN TE VUL
Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
'n Splinternuwe WinskoopToere bestemming in 2027!
LET DAAROP DAT ALLE ONTBYTE, AANDETES (OF AANDETE-SUBSIDIES) EN ALLE TOEGANGSGELDE VAN GROEPSBESOEKE OP ONS TOER NA EUROPA REEDS BY ONS PRYS INGESLUIT IS.
Dag 1: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Sondag, 25 April 2027
- JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA -
Die eerste tree van ons Europese Lentereis
Ons vertrek vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg op ons vlug na Parys in Frankryk.
Dag 2: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Maandag, 26 April 2027
- PARYS, GIVERNY & BAYEUX, FRANKRYK -
Parys, Monet en die pad na Normandië
Na ons aankoms op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys, vertrek ons direk na die skilderagtige dorpie Giverny. Hier stap ons deur die lewende skilderye van Claude Monet - waar die ikoniese Japannese brug en die waterlelies ons in ’n see van kleur en rustigheid verwelkom. Daarna reis ons dieper Normandië binne na die geskiedkundige dorp Bayeux, waar ons vir die volgende drie nagte tuisgaan in die ou stad - ‘n perfekte basis om hierdie fassinerede streek te verken. Ons vier vanaand die afskop van ons Europese avontuur met ‘n heerlike aandete saam as groep.
Die skilderagtige tuin van Monet, Giverny
Dag 3: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Dinsdag, 27 April 2027
- POINTE DU HOC, OMAHA & LONGUES-SUR-ME, FRANKRYK -
D-dag: Die kus van bevryding
Vandag onderneem ons ’n diep emosionele reis terug na 6 Junie 1944. ‘n Plaaslike gids laat die geskiedenis wat hom hier afgespeel het, lewendig word. Ons begin by die -indrukwekkende kranse van Pointe du Hoc, waar die littekens van die oorlog steeds in die vorm van enorme bomkraters sigbaar is.
Daarna besoek ons ’n fassinerende privaat museum by Omaha-strand waar soldate se persoonlike items boekdele oor die oorlog spreek. Hierna geniet ons ’n rustige middagete langs die kus.
Die middag staan ons stil tussen die duisende wit kruise van die Amerikaanse Begraafplaas. Ons besoek die massiewe kanonne van Longues-sur-Mer en sluit die dag met ’n asemrowende uitsig oor die kunsmatige hawe van Arromanches af.
Elkeen ontvang €25 subsidie ter bydrae om aandete in een van die plaaslike restaurante te geniet.
Pointe du Hoc
Dag 4: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Woensdag, 28 April 2027
- MONT-SAINT-MICHEL & BAYEUX, FRANKRYK -
Die magiese Mont-Saint-Michel
Vandag besoek ons een van die wêreld se groot wonders: die eiland-abdij van Mont-Saint-Michel. Hierdie middeleeuse vesting rys soos ’n lugspieëling uit die see op.
Ons verken die nou klippaadjies en die indrukwekkende katedraal bo-op die spits.
Ongelukkig word die beroemde Bayeux tapisserie tot Oktober 2027 tydelik in die Britse Museum gehuisves terwyl restourasiewerk aan die Bayeux Tapisserie Museum voltooi word. Terug in Bayeux is daar nou egter vrye tyd om die Gedenkmuseum vir die Slag van Normandië, of Baron Gérard Museum vir Kuns en Geskiedenis teen jou eie pas te besoek.
Ons geniet weer aandete op ons eie in die stad (WinskoopToere dra €25 subsidie by).
Die magiese Mont-Saint-Michel
Dag 5: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Donderdag, 29 April 2027
- PAYS D’AUGE & HONFLEUR, FRANKRYK -
Kaas, appels en die sjarme van Honfleur
Ons groet Bayeux en reis deur die beeldskone Pays d'Auge.
Geen besoek aan Normandië is volledig sonder om hul beroemde kaas te proe nie en daarom besoek ons ‘n kaasmaker (fromagerie) vir ’n heerlike kaasproesessie.
Daarna wag Honfleur, moontlik die mooiste hawedorp in Frankryk. Die res van die middag is joune om langs die skilderagtige Vieux Bassin (ou hawe) te sit en die atmosfeer te geniet.
Ons oornag die volgende twee nagte in die hartjie van Honfleur. Ons geniet aandete op ons eie in een van die vele plaaslike restaurantjies in die dorp of hawe, waarvoor WinskoopToere €25 bydra.
Honfleur
Dag 6: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Vrydag, 30 April 2027
- ÉTRETAT & FÉCAMP, FRANKRYK -
Étretat: Die Kunswerk van die natuur
Vandag ry ons oor die argitektoniese meesterstuk, die Pont de Normandie, op pad na die Alabaster-kus. Die wit krytrotse en natuurlike boë van Étretat is een van die mees gefotografeerde tonele in Europa.
Ons besoek ook die fassinerende Tuine van Étretat - 'n asemrowende groen meesterstuk wat soos golwe oor die kranse vloei en 'n onvergeetlike uitsig oor die see bied.
Na ’n verkwikkende wandeling langs hierdie ikoniese kuslyn besoek ons die manjifieke Palais Bénédictine in Fécamp, waar ons ’n kykie in hul distilleerdery kry en die geleentheid het om van hul geheime likeur te proe.
Ons oornag weer in Honfleur, met ‘n aandetesubsidie van €25.
Étretat, Frankryk
Die Tuine van Étretat, Frankryk
Dag 7: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Saterdag, 1 Mei 2027
- DUNKIRK, FRANKRYK & BRUGGE, BELGIË -
Dunkirk en die sprong na België
Ons reis vandag noordwaarts.
Ons eerste stop is by Delville-bos waar ons die museum en gedenkteken besoek. Min mense weet dat hierdie stil Franse bos heilige Suid-Afrikaanse grond is. Dit eer die meer as 3,000 Suid-Afrikaanse soldate wat hier in 1916 in ’n weke-lange weermagslag gesterf of gewond is. Met sy pragtige nasionale monument, ’n museum in die vorm van die Kaapse Kasteel van Goeie Hoop, en die laaste oorspronklike boom wat die bomme oorleef het, bring hierdie stop ’n tasbare gees van nasionale trots en diepe emosie na ons toer.
Hierna stop ons in Dunkirk om die ongelooflike storie van Operasie Dynamo te herleef, waar honderde duisende soldate vanaf die strande in 1940 gered is.
Na ’n besoek aan die aangrypende museum langs die strand, steek ons die grens na België oor.
Hier wag Brugge, ‘n sprokiesagtige stad, waar ons vir die volgende drie nagte stapafstand van die ou stad tuisgaan. Ons geniet saam aandete in die hotel.
Brugge, België
Dag 8: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Sondag, 2 Mei 2027
- GENT & BRUGGE, BELGIË -
Gent: Die trotse hart van Vlaandere
Vandag ontdek ons die stad Gent. Ons besoek die massiewe Gravensteen-kasteel wat soos iets uit ’n riddersprokie lyk.
Geniet gerus middagete langs die Graslei, voordat ons die St. Baafskatedraal met die wêreldberoemde "Lam van God"-altaarstuk, besoek.
Die aand keer ons terug na die rustigheid en sjarme van Brugge. Elkeen kan aandete op hulle eie geniet in een van die vele restaurante in die ou stad (WinskoopToere dra €25 by).
Gent, België
Gravensteen-kasteel, België
Dag 9: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Maandag, 3 Mei 2027 -
- BRUGGE, BELGIË -
Brugge: Die Venesië van die Noorde
Vandag gee ons die bus ’n rusdag en verken ons Brugge te voet - of dalk wil jy dit ook per boot of koets verken?
Vaar deur die kanale en stap oor die antieke brûe.
Bederf jouself met wêreldklas Belgiese sjokolade, snuffel handgemaakte kant uit, of klim die 366 trappe van die Belfort-toring vir ’n onverbeterlike uitsig oor die stad.
Ons oornag weer in ons hotel in Brugge. Subsidie van €25 word bygedra vir jou eie aandete.
Heerlike Belgiese sjokolade
Dag 10: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Dinsdag, 4 Mei 2027 -
- ZEELAND & LEIDEN, NEDERLAND -
Zeeland en die tem van die see
Ons groet die betowerende België en ry deur die Westerschelde-tonnel na die provinsie Zeeland in Nederland.
Hier besoek ons Neeltje Jans en die wêreldbekende Deltawerke. Dit is ’n belewenis om te sien hoe die Nederlanders die krag van die oseaan met ingenieursvernuf getem het.
Teen die aand arriveer ons in die pragtige gragtestad Leiden waar ons die volgende drie nagte oornag, weer digby die ou stad.
Vanaand geniet ons ‘n eg Nederlandse aandete saam.
Leiden, Nederland
Dag 11: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Woensdag, 5 Mei 2027
- KEUKENHOF & DELFT, NEDERLAND -
Keukenhof: ‘n Tulpefees!
Vandag is die dag waarvoor almal gewag het! Ons arriveer vroeg by die hekke van Keukenhof om die asemrowende blomtuine te beleef voordat die groot skares opdaag. Miljoene tulpe en hiasinte skep ’n kleurfees sonder gelyke.
In die middag besoek ons die historiese stad Delft, bekend vir die beroemde blou-en-wit porselein. Hier woon ons ‘n demonstrasie by die Delft Blue-fabriek by.
Ons oornag vanaand weer in ons hotel in Leiden. Ons kan vanaand ‘n gesellige restaurant gaan uitsoek vir aandete (WinskoopToere dra €25 by).
Keukenhof, Nederland
Delft, Nederland
Dag 12: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Donderdag, 6 Mei 2027
- AALSMEER & GOUDA, NEDERLAND -
Die Goue dag vol blomme en kaas
Ons begin die oggend by die Aalsmeer-blommeveiling, die grootste ter wêreld, waar miljoene blomme binne minute van eienaar verwissel. Wat ‘n fees vir jou sintuie!
Aangesien ons vroeg reeds by die veiling moet wees, keer ons daarna eers terug na ons hotel vir ‘n smaaklike ontbyt.
Daarna reis ons na die historiese Gouda en geniet ‘n egte tradisionele markdag! Ons ervaar 'n tradisionele kaasmark waar boere nog op die ou manier handel dryf. Ons besoek ook die Sint-Janskerk met sy beroemde loodglasvensters.
Ons geniet ons laaste aand in Nederland in Leiden by ons hotel en geniet aandete saam. Ons eet saam in ons hotel vanaand, terwyl ons stories van die afgelope twee weke uitruil.
Gouda, Nederland
Dag 13: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Vrydag, 7 Mei 2027
- LEIDEN, NEDERLAND -
Leiden: Die laaste skof van ons Europese Lentereis
Ons geniet ’n rustige oggend in Leiden met 'n bootvaart by Kagerplassen en 'n WinskoopToere-bederf. Ons vertrek later na Schiphol-lughawe vir ons vlug terug na Suid-Afrika.
Leiden, Nederland
Dag 14: Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Saterdag, 8 Mei 2027
- JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA -
Aankoms in Suid-Afrika
Ons arriveer weer op die O.R. Tambo Internasionale Lughawe, veilig terug in Suid-Afrika met harte en kameras vol onvergeetlike herinneringe.
Ons finale toerprys is R85,000* p.p. wat deel.
Enkeltoeslag is R18,000 p.p.
Teen wisselkoers van €1 = R19.00
*Die toerprys is onderhewig aan 'n aanpassing volgens die wisselkoers. Die finale toepaslike wisselkoers word ongeveer vier maande voor vertrek vasgestel en sal op die finale faktuur weerspieël word, wat drie maande voor vertrek betaalbaar is. Wisselkoerse word vir prysdoeleindes na die naaste ZAR afgerond.
Wil jy jou plek op hierdie toer bespreek?
Kry 'n digitale afskrif van jou paspoort en 'n informele foto gereed om te kan oplaai, vul die WinskoopToere-inskrywingsvorm hier onder in en betaal jou deposito van R6,000:
Kliek hier om te bespreek
KYK WAT IS ALLES IN ONS TOERPRYS INGESLUIT:
- Ekonomieseklas-retoervlugte met KLM. ‘n Beperkte aantal vlugte vanaf Kaapstad is op aanvraag beskikbaar.
- Lughawebelasting (uitgesluit die addisionele koste vanweë wisselkoersverandering).
- Luukse busvervoer (met lugverkoeling, ens.) vir die volle tydperk.
- Gehalteverblyf in twin-kamers (bed en ontbyt) in drie- en viersterhotelle. Ons slaap op hierdie toer in slegs vier hotelle (drie nagte in Bayeux, twee nagte in Honfleur, drie nagte in Brugge en drie nagte in Leiden).
- Aandetes of ‘n subsidie van €25 per persoon vir ‘n aandete elke dag.
- Die volgende toegangskaartjies is ingesluit:
- Monet se Tuine en Huis in Giverny;
- Musée D-Day Omaha (Privaatmuseum) in Vierville-sur-Mer;
- Kloostertoegang by die eiland-abdij van Mont-Saint-Michel;
- Kaasproe by ‘n kaasmaker in Normandië;
- Palais Bénédictine (toer en proe) in Fécamp;
- Étretat-tuine;
- Operation Dynamo Museum in Dunkirk;
- Delville-bosgedenkteken en museum;
- Gravensteen-kasteel in Gent;
- "Lam van God"-skildery (Sint-Baafskatedraal) in Gent;
- €15 subsidie in Brugge vir ‘n uitstappie van jou keuse;
- Delta Park Neeltje Jans (toegang en bootrit) in Zeeland;
- Keukenhoftuine in Lisse;
- Delft Blue-fabriekdemonstrasie in Delft;
- Royal FloraHolland Blommeveiling in Aalsmeer;
- Sint-Janskerk (Loodglasvensters) in Gouda; en
- 'n Bootvaart by Kagerplassen met 'n WinskoopToere-bederf.
- Twee ervare toerleiers vergesel die toer en neem met kundigheid en vriendelikheid die leiding. Wees ook gerus: Daar is dus altyd ‘n ekstra persoon wat in geval van nood hulp kan verleen.
- Fooitjie vir die busbestuurder (€24 p.p. vir die toer).
Wat is nie ingesluit nie?
- Visumkoste.
- Reisversekering. (LW: Sommige reisversekeringsopsies vereis dat jy dit moet aktiveer binne 24 of 48h nadat jy jou deposito aan WinskoopToere betaal het. Kontak ons vir meer inligting.)
- Middagetes.
- Toegangsgelde van plekke wat jy dalk addisioneel wil besoek.
- Fooitjies en uitgawes van persoonlike aard.
- Die addisionele koste daaraan verbonde indien jy kies om jou sitplek vooraf te bespreek, soos bepaal deur KLM/Air France.

Kom #DroomLeefReis saam!
Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer
Tree met ons in verbinding:
Ems: +27 83 637 1542 of Ilzé: +27 83 637 1642
Gaan volg WinskoopToere op ons Facebook, Instagram en YouTube blaaie en sien meer oor ons toere na Europa:
Toer na Europa - Ons Historiese Normandië en Lae Lande Lentetoer




