Skip to content

WINSKOOPTOERE ALGEMENE BEPALINGS EN VOORWAARDES

1. PRYS

Die totale toerprys sluit die volgende in: ’n deposito per persoon per toer, asook die balans van die toerprys, wat alle items soos op https://winskooptoere.co.za/ aangedui, insluit.  

Die toerprys is onderhewig aan ‘n aanpassing volgens die wisselkoers. Die finale toepaslike wisselkoers word ongeveer vier maande voor vertrek vasgestel en sal op die finale faktuur, wat drie maande voor vertrek betaalbaar is, weerspieël word. Wisselkoerse word vir prysdoeleindes na die naaste ZAR afgerond.

Retoervlugte vertrek vanaf en arriveer by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Suid-Afrika.

’n Beperkte aantal vlugte vanaf en na Kaapstadse Internasionale Lughawe is vir sekere toere beskikbaar. Enige prysverskille, asook enkeltoeslae, wegbreekkoste en/of lojaliteitsbonusse (indien van toepassing), sal deur WinskoopToere op die toerlid se faktuur aangedui word.

Na betaling van die deposito word ’n faktuur aan die toerlid uitgereik. Die uitstaande balans is aan WinskoopToere – nie later nie as drie maande voor die vertrekdatum van die toer – betaalbaar.

WinskoopToere aanvaar geen kontantbetalings nie.

Lughawebelasting is aan wisselkoersskommelinge onderhewig. Enige aanpassings sal ongeveer een maand voor die vertrekdatum op die faktuur aangedui word en moet, voordat vliegkaartjies uitgereik kan word, betaal word.

Enige toerlid wie se finale betaling agterstallig raak, sal hoogstens, indien dit skriftelik versoek word, uitstel van ‘n week kry vir finale betaling. Indien daar geen skriftelike versoek is nie en die betaling agterstallig bly, sal die toerlid se deelname aan die toer opgeskort word en die kansellasiebeleid vir kansellasies op korter kennisgewing as drie kalendermaande voor die vertrekdatum (Klousule 4. hieronder) sal geld.

2. REISVERSEKERING

Alle toepaslike buitelandse ambassades, konsulate en immigrasie-owerhede vereis bewys van reisversekering vir visumaansoeke.

WinskoopToere kan, op versoek van ’n toerlid, kwotasies vir reisversekering van Bryte, Hollard en Santam verkry. Elke toerlid is self verantwoordelik vir die verkryging van voldoende en toepaslike reisversekering volgens sy of haar behoeftes.

Die versekeringspolis wat die toerlid uitneem, vorm ’n onafhanklike ooreenkoms tussen die toerlid en die betrokke versekeringsmaatskappy. Alle eise wat voor, tydens of ná die toer ingedien word, bly uitsluitlik die verantwoordelikheid van die toerlid.

WinskoopToere beveel omvattende reisversekering ten sterkste aan, insluitend dekking vir mediese noodgevalle, kansellasie, verkorting van die reis, bagasieverlies en persoonlike aanspreeklikheid. Kredietkaartversekering is moontlik onvoldoende vir internasionale reisdoeleindes. Versuim om voldoende versekering te verkry geskied geheel en al op eie risiko.

In die geval van kansellasie deur WinskoopToere, insluitend weens oormag (soos hieronder omskryf), bly alle versekeringsaansprake die verantwoordelikheid van die toerlid.

Die toerlid vrywaar WinskoopToere teen enige verliese of eise wat voortspruit uit onvoldoende of ontbrekende versekering.

3. VISUMS

Elke toerlid is persoonlik en uitsluitlik verantwoordelik vir die verkryging van die korrekte visum(s) wat vir die toer vereis word. WinskoopToere sal die nodige stawende dokumentasie (insluitend vlugroetes, verblyfbevestigings en uitnodigingsbriewe) voorsien nadat alle toerfooie ten volle betaal is.

Die toerlid bly ten volle verantwoordelik vir:

  • die akkuraatheid en volledigheid van alle ingediende inligting;
  • die betaling van alle konsulêre gelde;
  • die bywoning van onderhoude en/of biometriese prosesse; en
  • voldoening aan alle visumvereistes, insluitend enige daaropvolgende wysigings.

In die geval van enige weiering, vertraging, herroeping of kansellasie van ’n visum, sal die standaard kansellasiebeleid van WinskoopToere sonder uitsondering van toepassing wees.

Namibiese toerlede moet self visumvereistes onafhanklik verifieer, aangesien hierdie wesenlik van Suid-Afrikaanse vereistes kan verskil.

Vir toerlede wat hul verblyf in die Schengen-gebied verleng, word onafhanklike professionele immigrasie-advies sterk aanbeveel.

4. KANSELLASIEBELEID

Toerlede wat skriftelik tot vier kalendermaande voor die vertrekdatum kanselleer, is geregtig op terugbetaling van hul deposito, minus 15% administrasiekoste.

Vir kansellasies tot drie kalendermaande voor die vertrekdatum word die deposito terugbetaal, minus 25% administrasiekoste minus enige nie-verhaalbare kostes reeds deur WinskoopToere aangegaan.

Vir kansellasies op korter kennisgewing as drie kalendermaande voor die vertrekdatum sal terugbetalings streng beperk wees tot die mate waarin WinskoopToere fondse van verskaffers kan verhaal, indien en waar moontlik.

Indien ’n toer weens oormag gekanselleer word, sal ’n krediet toegestaan word in die mate waarin verskaffers krediet aan WinskoopToere verleen. Indien die toerlid nie van die krediet gebruik wil maak nie, geld die bogenoemde kansellasiebeleid.

Oormag sluit in, maar is nie beperk tot nie:

  • natuurrampe;
  • oorlog of burgerlike onrus;
  • terrorisme;
  • pandemies;
  • grootskaalse stakings; of
  • regeringsbeperkings buite die beheer van WinskoopToere.

WinskoopToere behou die reg voor om enige toer, anders as weens oormag, te kanselleer deur skriftelike kennisgewing aan alle geregistreerde toerlede – nie minder nie as dertig (30) dae voor die geskeduleerde vertrekdatum – te gee.

In sodanige geval is die toerlid geregtig op ’n volle terugbetaling van alle betaalde bedrae of, na keuse van die toerlid, ’n kredietnota vir dieselfde bedrag vir toekomstige gebruik. Hierdie remedie is die enigste regsmiddel beskikbaar aan die toerlid.

Geen terugbetalings sal gemaak word vir nie-opdaag of onbenutte dienste nie.

5. ENKELTOESLAG EN KAMERPLASING VAN ENKELTOERLEDE

WinskoopToere kan, op versoek en te goeder trou, kamerplasings vir enkeltoerlede fasiliteer. Geen aanspreeklikheid word aanvaar indien kamermaats tydens die toer ongeskik vir mekaar blyk te wees nie.

Geen verandering van kamermaats word tydens die toer toegelaat nie.

Indien geen geskikte plasing moontlik is nie, bly die toerlid aanspreeklik vir die enkeltoeslag per toer.

Persoonlike inligting wat vir kamerplasing gebruik word, sal hanteer word ooreenkomstig die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (POPIA).

6. AFWYKING VAN GROEPSVLUGTE

Lugrederye se reëls vir groepbesprekings laat soms toe dat ’n beperkte persentasie toerlede hul vlugopsies wysig. Sodanige wysigings kan addisionele koste meebring.

Indien ’n toerlid ’n afwyking versoek, sal WinskoopToere ’n voorwaardedokument voorsien wat deur die toerlid gelees en onderteken moet word.

Alle persoonlike reëlings wat hieruit voortspruit, insluitend maar nie beperk nie tot nuwe vlugte, verblyf, vervoer, visumverlengings en mediese versekering, bly die uitsluitlike verantwoordelikheid van die toerlid.

WinskoopToere sal enige addisionele koste deur die lugredery gehef, faktureer. Kansellasie van ’n afwyking op ’n latere stadium sal ’n administrasiefooi van R2,000 per persoon meebring.

Die toerlid vrywaar WinskoopToere teen enige verliese voortspruitend uit sodanige afwykings.

7. ALGEMENE BEPALINGS

a. Toerlede moet te alle tye bedagsaam en respekvol teenoor mede-toerlede optree. Voortgesette onaanvaarbare gedrag kan tot onmiddellike opskorting van deelname lei, met verbeuring van alle betalings.

b. Toere vereis ’n hoë vlak van fisiese aktiwiteit, insluitend daaglikse stap van gemiddeld agt kilometer teen ‘n gemaklike pas, die klim van trappe, ongelyke terrein en langdurige periodes van stap en staan. Hoewel toerlede gedurende hul eie vrye tyd teen hul eie tempo mag beweeg, vereis groepsaktiwiteite dat die groep saam beweeg.

Indien ’n toerlid se mobiliteit, gesondheid of fisiese vermoë die groep se program gereeld vertraag of die ervaring van mede-toerlede wesenlik benadeel, behou WinskoopToere die reg voor om die betrokke toerlid van sekere uitstappies, aktiwiteite of gedeeltes van die program uit te sluit indien dit in die belang van die toerlid of die groep geag word.

Indien die situasie voortduur of die veilige en suksesvolle uitvoering van die toer in gedrang bring, behou WinskoopToere die reg voor om die toerlid se verdere deelname aan die toer te beperk of te beëindig. Alle betalings sal in sodanige geval verbeur word en geen terugbetaling sal geskied nie.

Die finale beslissing in hierdie verband berus by die aangewese toerleier(s) en/of WinskoopToere.

c. Alle mediese toestande wat deelname kan beïnvloed, moet by registrasie openbaar gemaak word.

d. Toerlede van 70 jaar en ouer moet aan WinskoopToere, nie langer as ‘n maand voor die vertrek van die toer, ’n mediese sertifikaat voorsien en moet met ’n fikse en gesonde begeleier reis. WinskoopToere sal ‘n dokument verskaf wat op ‘n dokter se briefhoof gedupliseer en geteken moet word.

e. Benewens die vereiste vir toerlede van 70 jaar en ouer, moet enige toerlid wat aan ’n mediese toestand ly wat mobiliteit, uithouvermoë of veilige deelname aan die toer kan beïnvloed, ’n mediese sertifikaat voorsien wat bevestig dat die persoon geskik is om aan die toer deel te neem. WinskoopToere sal ‘n dokument verskaf wat op ‘n dokter se briefhoof gedupliseer en geteken moet word.

Hierdie toestande sluit onder andere in (maar is nie beperk tot):

  • hart- of longtoestande;
  • heup-, knie- of ander gewrigsvervangings;
  • voorneme om ‘n heup-, knie- of ander gewrigsvervanging te ondergaan binne twaalf maande na afloop van die toer;
  • enige operasie of ernstige besering binne ses maande voor vertrek;
  • neurologiese toestande;
  • ernstige mobiliteitsbeperkings; of
  • enige ander toestand wat die toerlid se vermoë om veilig en onafhanklik te reis kan beïnvloed.

WinskoopToere behou die reg voor om aanvullende mediese inligting of dokumentasie aan te vra indien dit redelikerwys nodig geag word.

Indien enige sulke inligting nie verklaar word nie en die toer en ander toerlede daardeur negatief beïnvloed word, sal klousule 7b. hierbo geld.

f. WinskoopToere behou die reg voor om, na sy uitsluitlike diskresie, ’n toerlid se deelname aan ’n toer voor of tydens die toer te kanselleer of te beëindig indien inligting aan die lig kom wat daarop dui dat die toerlid nie medies, fisies of andersins geskik is om aan die toer deel te neem nie. In sodanige geval sal die bepalings van die kansellasiebeleid van toepassing wees.

g. WinskoopToere behou die reg voor om die toerprogram te wysig, verkort of kanselleer in belang van veiligheid of logistiek.

h. Individuele reëlings tydens die toer bly onderhewig aan groepsreëlings.

i. Die toerprys kan aangepas word tot drie maande voor vertrek in geval van wisselkoersveranderings.

j. Elke toerlid is verantwoordelik vir sy of haar bagasie.

k. Elke toerlid is verantwoordelik vir die veilige bewaring van sy of haar paspoort en ander reisdokumente gedurende die toer.

In die geval van verlies, diefstal of beskadiging van ’n paspoort, sal WinskoopToere slegs administratiewe bystand verleen deur toepaslike kontakbesonderhede, prosedures en algemene inligting te verskaf.

Die betrokke toerlid bly egter self verantwoordelik vir alle stappe wat vereis word deur plaaslike owerhede, polisiestasies, ambassades of konsulate, asook vir enige koste wat daaruit voortspruit.

l. Indien nalatigheid tot bykomende administratiewe werk deur WinskoopToere lei, sal ’n fooi van R2,500 plus koste gehef word.

m. WinskoopToere tree slegs as agent op en is nie aanspreeklik vir gebeure buite sy beheer nie.

n. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir verliese of skade voortspruitend uit onvoorsiene omstandighede nie.

o. Die verwerking van persoonlike inligting van toerlede geskied streng ooreenkomstig die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (Wet 4 van 2013). Die toeroperateur versamel, verwerk en bewaar sodanige inligting uitsluitlik vir die doeleindes van die beplanning, uitvoering, administrasie en veiligheid van die toer, insluitend die verkryging van visums en ander reisdokumente, die reël van vervoer en verblyf, die hantering van mediese en gesondheidsvereistes, en die kommunikasie met toerlede en verskaffers. Toerlede verleen hiermee uitdruklike en ingeligte toestemming tot die verwerking van hul persoonlike inligting en, waar dit vir die uitvoering van die toer noodsaaklik is, tot die oordrag daarvan aan derdepartye, insluitend buitelandse lugrederye, hotelle, busse en ander vervoer, versekeraars en regeringsowerhede. Die toeroperateur tref alle redelike tegniese en organisatoriese maatreëls om die vertroulikheid, integriteit en beskikbaarheid van persoonlike inligting te beskerm. Toerlede behou die reg om toegang tot hul persoonlike inligting te verkry, om die regstelling of skrapping daarvan te versoek, en om beswaar te maak teen die verwerking daarvan, onderworpe aan die bepalings van die gemelde Wet. ’n Afskrif van die toeroperateur se privaatheidsbeleid is op skriftelike versoek kosteloos beskikbaar.

p. Tot die maksimum mate wat deur toepaslike wetgewing, insluitend die Wet op Verbruikersbeskerming, toegelaat word, word WinskoopToere se totale aanspreeklikheid teenoor enige toerlid beperk tot die totale bedrag wat deur die betrokke toerlid vir die toer aan WinskoopToere betaal is.

WinskoopToere sal onder geen omstandighede aanspreeklik wees vir enige indirekte, spesiale, toevallige, gevolglike of ekonomiese skade, insluitend maar nie beperk nie tot verlies van inkomste, verlies van gebruik, verlies van geleenthede of enige soortgelyke skade nie.

q. Hierdie bepalings vorm die volledige ooreenkoms tussen die partye.

r. Indien enige bepaling in hierdie dokument ongeldig is, bly die res afdwingbaar.

s. WinskoopToere tree as agent vir verskaffers op; kontrakte bestaan direk tussen die toerlid en die verskaffers.

t. Alle klagtes moet onverwyld aan die toerleier gerapporteer word vir hantering.

u. Hierdie algemene bepalings en voorwaardes, asook enige ooreenkoms wat daaruit voortvloei, word beheer deur en uitgelê ooreenkomstig die wette van die Republiek van Suid-Afrika. Die partye onderwerp hulle onherroeplik aan die eksklusiewe jurisdiksie van die Hoë Hof van Suid-Afrika. Enige geskil wat uit hierdie bepalings of die toer voortspruit, sal uitsluitlik voor sodanige hof besleg word.

Loading

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.