Tree met ons in verbinding: Ems: +27 83 637 1542 Ilzé: +27 83 637 1642…

Die REUSE voorreg van REIS
Dat reis ‘n voorreg is, is ‘n feit soos ‘n koei, maar kan ons bietjie besin oor HOE groot daardie voorreg werklik is?
Ja, dis luuks en nie vir almal beskore nie, maar dis slegs die tippie van die steeltjie van die kersie op die koek. Om te kan reis is een van die grootste seëninge uit ons Heer se hand.
As jy kan reis, is jy gesond, want sonder lewenslus en energie kan ’n mens nie nuwe plekke verken of dae vol nuwe ervarings aanpak nie. Elke tree deur ’n lughawe, elke wandeling oor die keisteentjies in ‘n ou stad verklap hoe waardevol gesondheid werklik is. Ons het oë wat die wonder van God se skepping kan sien, ore om die dialekte van verre lande te hoor en werkende sintuie om die geure en teksture van die onbekende te kan ervaar.
As jy kan reis, het jy tyd. In ’n wêreld waar almal jaag, is tyd een van die kosbaarste gawes wat die Here ons mee bederf. Reis is tyd om stadiger te leef, weg van roetines, verpligtinge en gejaagdheid, tyd om asem te haal en net in die oomblik te wees. Reis gee tyd vir onversteurde gesprekke, vir gedeelde ervarings wat blywende herinneringe word. Reis bied tyd om stil te raak in verwondering oor hierdie merkwaardige blou planeet, wat ons Vader so besonders geskape het.
Reis is verbysterend – dit verbreed ons perspektief. Ons vlieg binne ure oor kontinente, ons reis met digitale kaarte, lugversorging en WiFi in die wolke! Stilweg raak ons deel van ander kulture en nasies. Ons stap letterlik in geskiedenis. Binne sekondes kommunikeer ons met geliefdes, ons deel ons reise van duisende myle ver. Wat vroeër slegs vir pioniers moontlik was, maak van ons vandag avonturiers.
Reis dus altyd met diepe dankbaarheid – vir ons gesondheid, vir die tyd, vir die voorsiening van bo, vir die tegnologie en die gerief, vir die vriendskappe wat ons smee, vir die verbreding van ons lewensbeskouing, vir die grootsheid van die ervaring.
Reis is ‘n REUSE voorreg, want dit laat ons besin oor hoe nietig ons in God se reuse, wonderlike wêreld is.
Ilze Taljaard
Toerkoördineeder by WinskoopToere
![]()

Comments (0)