Skip to content

ARP27: Europese Plattelandtoer met André Rieu

Toerprys:

Kontak ons vir prys

Datum:

28 Junie tot tot 11 Julie 2027 (14 dae)

Plekke nog beskikbaar:

47 plekke

Kliek hier om te bespreek

NAMIBIË-TOERLEDE: KONTAK ASB. ONS KANTOOR DEUR DIE 'STEL JY BELANG?'-VORM HIER REGS IN TE VUL

Europese Plattelandtoer met André Rieu 2027

Beleef saam met ons die mooiste klein dorpies en stede in Duitsland, Frankryk en Nederland.

Die datum vir hierdie toer is onderhewig aan verandering en sal bevestig word sodra die datums van die André Rieu-konsert bekend is.

LET DAAROP DAT ALLE ONTBYTE, AANDETES (OF AANDETE-SUBSIDIES) EN ALLE TOEGANGSGELDE VAN GROEPSBESOEKE OP ONS TOER NA EUROPA REEDS BY ONS PRYS INGESLUIT IS.

Dag 1: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Maandag, 28 Junie 2027

- JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA -

Ons toergroep vertrek vandag vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg na Budapest.  ('n Beperkte aantal retoervliegkaartjies is soms vanaf Kaapstad op aanvraag beskikbaar.)

Dag 2: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Dinsdag, 29 Junie 2027

- PUTTEN, NEDERLAND -

Ons arriveer by Schiphol Lughawe in Amsterdam. Ons vertrek na ons hotel buite Putten in ‘n woud waar ons die volgende drie nagte oorslaap. Ons kan die middag heerlik hier uitstpan en gaan stap of fietsry. Ons geniet saam aandete in die hotel.

Putten, Nederland

Dag 3: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Woensdag, 30 Junie 2027

- GIETHOORN, APELDOORN & PUTTEN, NEDERLAND -

Vanoggend vertrek ons na die fraaie dorpie, Giethoorn. Ook bekend as die "Nederlandse Venesië", bied Giethoorn idilliese kanale, bekoorlike grasdakkothuise en geen paaie. In plaas van motors, is die primêre vervoermiddel in die dorp per boot of te voet, met talle klein brûe wat verskillende dele van die dorp verbind. Ons het vrye tyd om hierdie interessante dorpie te beleef.

Giethoorn, Nederland

Later vertrek ons na die Paleis Het Loo in Apeldoorn wat uit die 1600’s dateer. Ons keer later terug na ons hotel buite Putten.

Paleis Het Loo, Apeldoorn

Dag 4: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Donderdag, 1 Julie 2027

- GOUDA & PUTTEN, NEDERLAND -

Ons besoek vanoggend Gouda, die kaasstad van Nederland. Daar is baie om te sien en doen in Gouda, veral op ‘n Donderdag wanneer die kaasmark oop is. Ons besoek die Kaasmuseum waar ons leer oor kaasmakery. Dan het ons vrye tyd om historiese hoogtepunte soos die Waag, die stadsaal en die Sint-Janskerk te beleef. 

Ons vertrek weer na ons hotel buite Putten.

Gouda-kaasmark, Nederland

Dag 5: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Vryddag, 2 Julie 2027

- MAASTRICHT & VALKENBURG, NEDERLAND -

Vanoggend vertrek ons na Maastricht, een van die oudste stede in Nederland. Hier is 'n pragtige verskeidenheid Middeleeuse argitektuur, Romeinse ruïnes en skilderagtige strate. Besoek gerus van die gewilde landmerke, soos die Sint-Servaasbrug, Basiliek van St. Servatius en die Spaanse regeringsgebou. 

Later gaan ons inteken by ons hotel in Valkenburg. 

Vanaand wag ‘n baie groot bederf op ons. Ons toergroep gaan saam André Rieu se konsert bywoon op die stadsplein, Vrijthof, in dié gewilde musikant se tuisdorp.

André Rieu-konsert in Maastricht

Dag 6: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Saterdag, 3 Julie 2027

- VALKENBURG, NEDERLAND -

Ons geniet ‘n heerlike ontbyt by ons hotel. Hierna verken ons die juweel van ‘n dorpie, Valkenburg, wat beteken, Valk Kasteel. Bekend vir sy ryk geskiedenis, lewendige kultuur en asemrowende natuurskoon, het toerlede die geleentheid om die Valkenburgkasteel uit die 12de eeu te besoek, of om die fassinerende ondergrondse wêreld van Valkenburg se grotte, met antieke kalksteengroewe en versteekte gange, te ontdek. Hierdie grotte is o.a. as wegkruipplekke tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik.

Ons oornag weer in dieselfde hotel in Valkenburg.

Valkenburg, Nederland

Dag 7: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Sondag, 4 Julie 2027

- HEIDELBERG, DUITSLAND -

Ons ry vandag na die universiteitstad, Heidelberg. Dit is een van die mooiste stede in Duitsland. Dit is ook die tuiste van een van Duitsland se oudste universiteite: die 14de eeuse Universiteit van Heidelberg is geleë in die ou stad. Hier besoek ons die ou kasteel bo-op die berg. (Vir die ouer knieë is daar gelukkig ‘n Bergbahn [treintjie] tot bo.) Vandaar het mens ‘n asemrowende uitsig oor die ou stad en die Neckarrivier. Kaartjies vir die kasteel is ingesluit in die toerprys.

Heidelberg, Duitsland

Elkeen loop rustig deur die kasteel op hul eie pas en geniet vrye tyd vir die res van die dag. Ons slaap vanaand in Heidelberg.

Dag 8: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Maandag, 5 Julie 2027

- STRASBOURG & COLMAR, FRANKRYK -

Na ‘n smaaklike ontbyt, ry ons verder na die mooie Strasbourg. Hier geniet ons groep ‘n stadstoer onder leiding van ‘n plaaslike gids en daarna het ons lekker vrye tyd om self die ou stad te leer ken. 

Die uitleg van die Grande-Île (eiland waarop die ou stad gebou is) van Strasbourg is relatief min deur die vele oorloë geraak, en is steeds dié van sy oorspronklike struktuur.

Strasbourg, Frankryk

Later vertrek ons na Colmar, waar ons rustig kan rondstap en self die dorpie leer ken. Colmar is veral bekend vir sy goedbewaarde argitektoniese erfenis, sy ontelbare geplaveide strate asook die mooiste vakwerkhuises wat jou sal terugvoer na die Middeleeue.

Ons oornag vanaand  in Colmar.

Colmar, Frankryk

Dag 9: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Dinsdag, 6 Julie 2027

- COLMAR & RIQUEWIHR, FRANKRYK -

Vanoggend het ons weer vrye tyd in Colmar om hierdie dorpie verder te verken. Daarna gaan ons na die baie besonderse Middeleeuse dorpie, Riquewihr, waar alles lyk of die tyd eeue lank stilgestaan het. Riquewihr is 'n dorpie reg in die hartjie van die Elsassiese wingerde, geklassifiseer onder die "mooiste dorpies in Frankryk" en was deels die inspirasie vir die tuisdorp van Belle in die Disney film “The Beauty and the Beast”.

Riquewihr, Frankryk

Ons slaap vanaand weer in dieselfde hotel in Colmar.

Dag 10: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Woensdag, 7 Julie 2027

- FREIBURG, TRIBERG & SINGEN, DUITSLAND -

Vanoggend vertrek ons terug na Duitsland! Eerste gaan ons na Freiburg, aan die rand van die Swartwoud. Die ou stad het ‘n groot netwerk van klein stroompies wat daardeur vloei. Die Munsterplatz is 'n wonderlike plek om jou toer deur Freiburg te begin, aangesien dit omring word deur van die stad se belangrikste landmerke en historiese terreine. Dit is die tuiste van die indrukwekkende Freiburg Minster, 'n gotiese meesterstuk wat uit die 13de eeu dateer.

Freiburg, Duitsland

Later vertrek ons na Triberg wat in die middel van die Swartwoud lê. Hierdie dorpie het minder as 5,000 inwoners. Die Tribergwatervalle is van die hoogstes in Duitsland.

Triberg Watervalle, Duitsland

Ons vertrek later vanmiddag na Singen, waar ons die volgende drie aande gaan oornag.

Dag 11: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Donderdag, 8 Julie 2027

- MEERSBURG, LINDAU & SINGEN, DUITSLAND -

Ons ry vanoggend na Meersburg op die Bodensee. Hierdie Middeleeuse stadjie word gekenmerk deur ‘n Onderstad en ‘n Bostad wat slegs vir voetgangers is. Die twee dele word aanmekaar geheg deur trappe en ‘n steil straatjie.

Meersburg, Duitsland

Later ry ons na Lindau. Hierdie ou stad is op ‘n eiland in die Bodensee. ’n Gunstelingstaproete vir byna elke besoeker (as daar nie reën is nie!) is uit na die Lindau-vuurtoring en die Beierse leeu-beeldhouwerk by die hawe-ingang, wat spog met wonderlike uitsigte terug oor die water na Lindau se ou stad.

Vanaand bly ons weer in Singen.

Lindau-vuurtoring en leeu, Lindau

Dag 12: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Vrydag, 9 Julie 2027

- MAINAU, KONSTANZ & SINGEN, DUITSLAND -

Vanoggend wag die Blomme-eiland in die Bodensee, Mainau, op ons. Hierdie ‘tuin’ met blomme het ook parke en ‘n groenhuis met ‘n tropiese klimaat en duisende skoenlappers.

Mainau Blomme-eiland, Duitsland

Later vandag vertrek ons na Konstanz, waar die Rynrivier uit die Bodensee vloei. Hier het ons vrye tyd om in die ou stad aan die suide van Konstanz rond te wandel. Konstanz het baie ou geboue en kronkelende stegies. Die stadshorison word oorheers deur die Konstanz-katedraal, verskeie ander kerke en drie torings wat van die stadsmuur oorgebly het.

Ons oornag vanaand weer in dieselfde hotel in Singen.

Konstanz, Duitsland

Dag 13: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Saterdag, 10 Julie 2027

- ZüRICH, SWITSERLAND -

Ons geniet ‘n gesellige ontbyt saam en vertrek dan na Zürich vir ‘n laaste bietjie vrye tyd. Ons besoek die ou stad met geplaveide strate vol gesellige kroeë, tradisionele Switserse restaurante en kunsmuseums soos die Kunsthaus. Hier kan jy ook ikoniese kerke soos die Fraumünster sien, met Chagall- en Giacometti-loodglasvensters.

Zürich, Switserland

Na ‘n heerlike laaste dag in Europa neem ons bus ons groep na die lughawe en vertrek ons terug na Suid-Afrika.

Dag 14: Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

Sondag, 11 Julie 2027

- SUID-AFRIKA -

Ons arriveer terug in Suid-Afrika na ‘n wonderlike en onvergeetlike ervaring.

Ons toerprys is tans onbekend.

Wil jy jou plek op hierdie toer bespreek?

Kry 'n digitale afskrif van jou paspoort en 'n informele foto gereed om te kan oplaai, vul die WinskoopToere-inskrywingsvorm hieronder in en betaal jou deposito van R6,000:

Kliek hier om te bespreek

 

KYK WAT IS ALLES IN ONS TOERPRYS INGESLUIT:

  • Ekonomieseklas-retoervliegkaartjie van Johannesburg na Budapest en van Zürich na Johannesburg. ('n Beperkte aantal retoervliegkaartjies vanaf Kaapstad is ook soms op aanvraag beskikbaar.);
  • Lughawebelasting - mag toeneem a.g.v. wisselkoersverandering (tans geen);
  • Gerieflike verblyf (bed en buffetontbyt) in dubbel- of twinkamers, elk met eie badkamer, in drie- en viersterhotelle;
  • Aandetes soos gemeld in ons program of ‘n subsidie van €20 p.p. vir aandetes wat nie as groep saamgeëet word nie;
  • Privaat luukse bus vir die groep (met lugverkoeling en yskas) vir die duur van die toer;
  • Fooi vir die busbestuurder: €24 p.p.;
  • Twee ervare toerleiers vergesel die toer en neem met kundigheid en vriendelikheid die leiding. (Wees ook gerus: Daar is dus altyd ‘n ekstra persoon wat in geval van nood hulp kan verleen.)

Toegangsgelde vir die volgende uitstappies is ook by die prys ingesluit:

  • Kanaalvaart in Giethoorn;
  • Paleis Het Loo;
  • Kaasmuseum in Gouda met kaasproe;
  • André Rieu-konsert;
  • Kasteel en Bergbahn in Heidelberg;
  • ‘n Stadstoer in Strasbourg en Zürich onder leiding van ‘n professionele plaaslike gidse (Engelssprekend);
  • Bootvaart op die Bodensee;
  • Mainau-eiland.

Wat is nie ingesluit nie?

  • Addisionele lughawebelasting a.g.v. wisselkoersverandering (tans geen);
  • Visumkoste;
  • Reisversekering (LW: Sommige reisversekeringsopsies vereis dat jy dit moet aktiveer binne 24 of 48h nadat jy jou deposito aan WinskoopToere betaal het. Tree gerus met ons in verbinding vir meer inligting.);
  • Middagetes;
  • Enige ander toegangsgelde en uitstappies wat jy op jou eie onderneem – volgens jou eie voorkeur;
  • Fooitjies en uitgawes van persoonlike aard.

Kom #DroomLeefReis saam!

Toer na Europa - Ons Europese Plattelandtoer met André Rieu

**WinskoopToere behou die reg om die prys en toerprogram te wysig.

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.