Skip to content

Wees op die uitkyk vir sakkerollers in Europa!

Baie reisigers loop deur onder sakkerollers.

Verhoed dat jy ‘n prooi word!

Europa is ’n uiters gewilde – en oor die algemeen veilige reisbestemming, en miljoene besoekers geniet jaarliks die kontinent se geskiedenis, kultuur en natuurskoon. Soos met enige internasionale reis, is dit egter belangrik om bewus te wees van algemene veiligheidsaspekte, veral in besige toeristegebiede.

In groot Europese stede kom daar soms opportunistiese en goed georganiseerde spanne sakkerollers voor – meestal in plekke waar daar groot konsentrasies toeriste is, soos by openbare vervoer, bekende besienswaardighede en besige stadsentrums. Nuusberigte oor die afgelope paar jaar toon dat toeriste soms beroof word wanneer hulle onbewus is van hul omgewing, byvoorbeeld wanneer sakke oopgelaat word, selfone sigbaar gebruik word of waardevolle items sonder toesig gelaat word in restaurante of hotelle.

Tipiese voorbeelde sluit in sakkerollers wat in skares werk en die aandag aflei terwyl ’n beursie of selfoon gesteel word, of gevalle waar rugsakke en handsakke vinnig geneem word wanneer dit oor stoele hang of op die grond staan. Hierdie voorvalle is gewoonlik vinnig en onopvallend, en kan dikwels voorkom word met eenvoudige voorsorgmaatreëls.

Ons beveel aan dat ons toerlede waardevolle items altyd teenaan die liggaam dra, verkieslik in sakke met ritssluitings of binnesakkies. Rugsakke behoort in besige areas voor die liggaam gedra te word, en selfone, beursies en paspoorte moet nie in agtersakke of oop sakke gehou word nie. Dra slegs die nodige kontant / kredietkaarte saam en vermy dit om alle waardevolle items alles op een plek te hou.

Ons toerleiers is ervare en goed ingelig oor plaaslike toestande en sal u tydens die toer leiding gee oor veilige roetes, vervoer en gebiede waar ekstra waaksaamheid nodig is. Ons versoek vriendelik dat toerlede altyd naby aan die groep bly en enige verdagte of ongewone situasies onmiddellik aan die toerleiers rapporteer.

Ons deel hierdie wenke nie om enigiemand bang te maak nie – maar om seker te maak jy reis ingelig en selfversekerd. Deur bewus te wees, vooruit te beplan en eenvoudige veiligheidsriglyne te volg, is die kans om so ‘gevang’ te word baie klein. Ons doel is dat jy jou Europese reis met gemoedsrus kan geniet en jou aandag kan vestig op die wonderlike ervarings wat op jou wag.

Stede waar jy ekstra waaksaam moet wees:

In Parys, Barcelona, Rome, Praag en Madrid kom sakkerollery die meeste voor – veral by:

  • Eiffel-toring en die Louvre (Parys)

  • La Rambla (Barcelona)

  • Colosseum, Vatikaanstad en Spaanse Trappe (Rome)

  • Karelsbrug en Ou Stadsplein (Praag)

  • Plaza Mayor (Madrid)

  • Alle metro’s, treine en besige roltrappe

Hierdie plekke is nie gevaarlik nie – hulle is eenvoudig net baie besig.

Nuwe sakkerolmetodes:

Die bottelnek

Wanneer mense saamgedrom is by ’n ingang of trein, gebruik sakkerollers die drukgang om ongemerk jou sakke leeg te maak.

Die kaart- of petisie-truuk

Iemand vra jou om aanwysings of ’n handtekening. Terwyl jy help, werk ’n maat vinnig.

Die vlektruuk

Iets word “per ongeluk” op jou klere gemors. Terwyl iemand help skoonmaak, word jou beursie gesteel.

Selfoongrypery

’n Toenemende probleem: Selfone word uit hande geruk wanneer toeriste foto’s neem of Google Maps gebruik.

Openbare vervoer

Spits-ure op metro’s en treine is gewilde werksterreine. Selfone in agtersakke is ’n maklike teiken.

WinskoopToere se praktiese wenke:

✔ Dra ’n kruissak (crossbody) wat voor jou lyf rus.
✔ Gebruik ’n geldbelt of versteekte sakkie vir jou paspoort.
✔ Moet nooit jou beursie of selfoon in ’n agtersak dra nie.
✔ Dra jou rugsak in besige areas voor jou.
✔ Hou jou omgewing dop teryl jy ‘n selfoon gebruik.
✔ Moet nooit waardevolle items in die voorportaal van ‘n hotel of op restauranttafels los nie.
✔ Verdeel belangrike dokumente tussen reisgenote.

By WinskoopToere reis ons saam, kyk uit vir mekaar en maak ons seker dat elke toer ’n veilige en onvergeetlike ervaring is.

Loading

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.