Skip to content

Intensioneel Internasionaal: Reis met Perspektief

‘n Oorsese reis is soveel meer as net die geleentheid om nuwe lande, kulture en besienswaardighede te ontdek. Dit is ‘n uitnodiging om met groter bewustheid, verwondering en betekenis te leef. In ‘n wêreld waar ons dikwels gejaagd reis – van een bestemming na die volgende – herinner die beginsel van intensionaliteit ons daaraan om stadiger te beweeg en die reis werklik te beleef.

Intensionaliteit beteken om doelbewus teenwoordig te wees. Dit vra nie net: “Wat gaan ek sien?” nie, maar ook: “Wat gaan ek leer?”, “Wie gaan ek ontmoet?” en “Hoe gaan hierdie ervaring my verander?”

Vir die Christen kry hierdie ingesteldheid ‘n nog dieper betekenis. Reis word dan nie bloot ‘n vakansie nie, maar ‘n geleentheid om God se skepping, sy mense en sy teenwoordigheid op nuwe maniere te ontdek. Elke bestemming word ‘n uitnodiging om met oop oë en ‘n oop hart te leef. Begin elke dag met die eenvoudige gebed: “Here, wat wil U vandag vir my wys?” , “Hoe kan ek vandag vir U leef?”

Navorsing oor geluk wys dat werklik gelukkige mense gekenmerk word deur dankbaarheid, sterk verhoudings, doelgerigtheid, aanpasbaarheid en teenwoordigheid. Reis bied die ideale geleentheid om al vyf hierdie eienskappe te beoefen. Ons leer dankbaarheid wanneer ons die voorreg van reis besef. Ons bou verhoudings met medereisigers en mense uit ander kulture. Ons kan doelgerig elke dag aan die Here toewy.  Ons leer aanpas wanneer planne verander en ons oefen teenwoordigheid, wanneer ons onsself toelaat om elke oomblik ten volle te beleef.

Teenwoordigheid verg oefening. Jy moet jouself doelbewus in die oomblik anker. Dit kan so eenvoudig wees as om jou voete stewig op die grond te voel, die prikkeling van die wind teen jou wang te bespeur, aandagtig na die geroesemoes van ‘n stadsplein te luister of om jou in die geur van varsgebakte brood  te verlekker. Hierdie eenvoudige handelinge herinner ons: Ek is nou hier.

Wanneer ons so reis, begin ons mense raaksien en nie net plekke nie. Ons luister na stories. Ons bewonder nie net die katedraal nie, maar besin oor die mense wat dit gebou het. Ons neem foto’s, maar juis om die geleentheid in sy volheid te kan onthou. Ons ontdek dat God dikwels die duidelikste praat wanneer ons luister.

Aan die einde van die toer is die belangrikste vraag dalk nie wat die mooiste plek was of waar ons die lekkerste geëet het nie, maar eerder: Wat neem ek huis toe? Nie in my tas nie, maar in my hart. Watter nuwe perspektiewe, lesse, herinneringe en geestelike insigte gaan my lewe steeds verryk lank nadat die toer verby is?

‘Intensioneel internasionaal’ beteken uiteindelik om die wêreld nie net te besoek nie, maar dit werklik te ontmoet – en om met nuwe oë na God, die wêreld en onsself terug te keer.

Versamel herinneringe, nie net foto’s nie; perspektief, nie net aandenkings nie; en oomblikke, nie net bestemmings nie – reis intensioneel.

Loading

Comments (0)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.