Skip to content

Die WinskoopSpan aan die woord: Hestia Victor gesels oor waar presies “Huis” is

Die WinskoopSpan aan die woord

Hestia Victor gesels oor waar presies “Huis” is

Mens kan my seker ‘n gewoontereisiger noem; of dit nou oorsee is, of sommer ‘n dagreis na die wildtuin vir ‘n familievakansie of ‘n ‘roadtrip’ Weskus toe, ek is mal daaroor om te reis en soveel as moontlik van die wêreld te sien. Mens moet darem so nou en dan jouself blootstel aan dinge en plekke wat jou lewe verryk en jou uitdaag om anders na jou eie manier van dink en doen te kyk.

Maar mens kan ook nie heeltyd net reis nie en ek is ewe lief daarvoor om doodeenvoudig by die huis saam met my gunstelingmense tyd te spandeer. Huis is al van kleintyd af die groen-akkerboom-stad Potchefstroom, en dit is ook hier waar my ouers nog woon en waar my hart is: by my liefling en sy twee seuntjies wat sorg dat daar nie ‘n vervelige oomblik in enige dag is nie. En moenie van my Weimaraner vergeet nie – sy spesialiseer ook in teen-vervelingstegnieke.

My oortuiging dat die ergste ding wat met mens kan gebeur ‘n vervelige lewe is, is waarskynlik ook die rede dat ek meer stokperdjies het as wat enigiemand seker nodig het. So tussen die reis, en die huis en die huiswerk (beide die tipe wat in ‘n huishouding nodig is, en die tipe wat nie vir kinders en ouers se verhouding bevorderlik is nie) deur, hou ek myself met enige skeppende ding besig. Ek het alewig ‘n hekelpen, kwas of ‘n stuk lap beet, elke af en toe sien ‘n leerskepping die lig en ek het selfs al ‘n koffietafelboek aangepak. Min dinge is so verrykend soos musiek, en ek was tot onlangs lid van ‘n kamerkoor vir volwassenes (asof ek nie genoeg het om met my tyd te doen nie).

Ek glo selfs huis, al hierdie alledaagse dinge, die mense saam met wie jy die lewe doen, en mens se gedagtes is ‘n reis – soos ‘n goeie vriend van my altyd sê: “my lyf is dalk in Potch, maar my kop is in Parys”. Dus, of ek nou op pad is of tuisbly, noem my maar beslis ‘n gewoontereisiger!

Loading

Comments (0)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.