Skip to content

SAID-REISIGERSVERKLARING:  VRAE & ANTWOORDE

Dit is toe nie fopnuus nie – vanaf 1 Julie 2026 moet alle reisigers wat Suid-Afrika binnekom of verlaat ‘n aanlynverklaring via die belastingdiens, SARS, se webwerf of mobiele SATMS-toepassing voltooi! Moenie vrees nie, die verklaring is maklik en vinnig om te voltooi en dit hou nie enige implikasies vir jou persoonlike belastingsake in nie.

Ons weet dat hierdie nuwe beleid vir reisigers vele vrae laat ontstaan, daarom het ons hierdie handige gids met Vrae & Antwoorde saamgestel om jou so bietjie meer gemoedsrus te gee oor wat die verklaring alles behels.

Wie moet die verklaring voltooi?

Almal wat deur Suid-Afrika se grense beweeg moet die verklaring voltooi. Dit sluit in Suid-Afrikaanse burgers, persone met permanente verblyfreg en buitelandse besoekers. Ouers of voogde moet ook namens minderjariges die verklaring voltooi.

Wanneer moet dit voltooi word?

Die verklaring moet binne die voorafgaande 24 uur wat ‘n reisiger die land verlaat en wanneer jy weer Suid-Afrika binnekom aanlyn voltooi word. (Jy kan wel ‘n profiel skep vooraf, maar jy sal nie langer as 24 uur vooraf die inligting kan verskaf nie.)

Wat is die doel van die verklaring?

Die verklaring het ten doel om die buitelandse valuta en waardevolle goedere wat Suid-Afrika binnekom en verlaat te bestuur en om reisigers die geleentheid te bied om reeds voor hul reis hul goedere te verklaar om sodoende vertragings by doeane te voorkom.

Wat het ek nodig om die verklaring te voltooi?

(Indien jy al die onderstande inligting byderhand het en niks het om te verklaar nie behoort dit jou nie langer as vyf minute te neem om die verklaring te voltooi nie:)

  • Jou paspoortnommer;
  • Jou reisplan (die stelsel vra slegs vir jou bestemming en die datum waarop jy SA verlaat of binnekom);
  • Jou ID-nommer;
  • Persoonlike besonderhede (soos selfoonnommer, volle name, e-posadres);
  • Jou vlugnommer waarmee jy SA verlaat of binnekom;
  • Enige inligting oor valuta of goedere wat jy wil verklaar.

Wat moet ek alles verklaar?

Die volgende items moet verklaar word:

  • Meer as R100,000 kontant;
  • Meer as €10,000 kontant (of $10,000);
  • Goedere ter waarde van meer as R5,000;
  • Wapens, vuurwapens of onverwerkte minerale;
  • Alle biomateriale (bv. plante, diereprodukte wat nie vakuumverpakte produkte is nie – dit sluit suiwel en heuning in);
  • Medikasie wat ‘n maand se voorraad oorskry en nie met ‘n voorskrif gepaard gaan nie;
  • Tabakprodukte van meer as 200 sigarette, 20 sigare en 250g tabak;
  • Meer as twee liter wyn;
  • Meer as ‘n liter ander alkoholiese drank. 

(‘n Reisiger mag dus slegs twee liter wyn EN een liter ander alkoholiese drank, soos bv. whisky, brandewyn, gin, vodka, rum of likeur inbring of uitneem.)

Indien jy nie met enige van hierdie items reis nie, kan jy die I have no goods and/or currency to declare-opsie op die stelsel kies.

Onthou dat ‘n doeane-beampte jou nogtans, ten spyte van jou aanlynverklaring, by doeane mag vra met hoeveel valuta jy reis en of jy enigiets het om te verklaar. 

Indien ek uitstaande skuld by SARS het, mag ek by doeane geweier word?

Nee. Jy mag slegs by doeane geweier word indien daar ‘n reeds bestaande dagvaarding of ‘n lasbrief vir jou inhegtenisname uitgereik is.

Wat is die belastingimplikasies indien ek op die stelsel kies om iets te verklaar?

Indien jy op die aanlynstelsel kies om valuta of goedere te verklaar, sal die stelsel ‘n fooi bereken op grond van die waarde van die goedere wat jy verklaar. Hierdie fooi is dan onmiddellik aanlyn betaalbaar (gewoonlik gelyk aan BTW plus invoerbelasting, of ‘n standaardfooi van 20% van die goedere se waarde). Jou verklaring hou egter geen ander belastingimplikasies in nie. Jy word ook nooit vereis om jou belastingnommer op die stelsel in te voer nie.

Moet ek ‘n bewys van my verklaring na die lughawe saamneem?

Ja, dit is slim om ‘n bewys van jou aanlynverklaring na die lughawe saam te neem. Wanneer jy jou e-posadres invoer, behoort die stelsel vir jou ‘n e-posbewys te stuur. Jy kan dit ook aflaai en laat druk, maar ‘n digitale weergawe sal voldoende wees. 

Neem ‘n skermgreep van die verklaring se laaste blad waarop staan dat jy jou verklaring voltooi het. Dit is nie gewaarborg dat ‘n doeane-beampte jou hiervoor sal vra nie; hou dit nogtans byderhand.(Dit is ook handig indien jy nie ‘n e-posadres het nie of ook nie die e-pos ontvang het nie.)

Wat gebeur as ek vergeet of versuim om die verklaring te voltooi?

Indien jy nie voor jou reis die verklaring kan voltooi nie, of eenvoudig vergeet om dit te doen, mag dit slegs vertragings by doeane veroorsaak en mag jy hier gevra word om die verklaring te voltooi. Jy mag nie verhinder word om Suid-Afrika te verlaat, of toegang tot Suid-Afrika geweier word op grond hiervan nie.

 

Kliek hier om jou Suid-Afrikaanse Inkomstediens-reisigersverklaring te voltooi:

OF

 Laai die SATMS-mobiele toepassing af – op hierdie toepassing moet jy net eers ‘n profiel gaan skep sodat al jou standaard inligting reeds daar is wanneer jy ‘n verklaring moet voltooi. 

 

Loading

Comments (0)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.