Skip to content

In die knyp

In die buiteland kan mens jouself maklik in die knyp kry oor taaldinge – veral as jy nie meer kán knyp nie! So toer ons eenmaal in Rusland en die groot nood sak toe. Vooraf is ons mooi gewaarsku: in Europa vra jy nie vir ‘n bathroom nie, maar vir ‘n WC of ‘n water closet. St Petersburg se middestad is nou nie juis ‘n lushof van gratis publieke badkamers nie, tensy jy met ‘n smerige mobiele toilet tevrede is, en so soek ons maar die naaste besigheid wat belowend lyk uit.

By die ontvangs vra ons die knapie aan diens in ons beste Engels vir alle interpretasies van WC, sonder sukses. Toe ons uiteindelik mooi stadig vra vir ‘n “w-a-t-e-r-c-l-o-s-e-t” helder sy gesig meteens op. Hy gryp ‘n bos sleutels en lei ons entoesiasties al in die gang af. By ‘n deurtjie blaai hy deur die sleutels, vind die regte een en swaai die deur met verligting en groot afwagting oop, hoopvol dat hy uiteindelik aan ons versoek kan voldoen. Maar wat sien ons binne? Botteltjies en botteltjies water, van hoek tot kant tot teen die plafon gestapel.

Ter aanskouing van daardie water closet kon ons onsself nie inhou nie en is ons bitter vinnig met ‘n beleefde “spasibo” (dankie) al laggend by die deur uit. Die arme knapie was so verstom en verward – nes ons. Nota aan self: in Rusland vra jy nie vir ‘n “water closet” nie, maar doodeenvoudig vir ‘n “tualet”.

Hestia Victor

Toerkoördineerder by WinskoopToere

Loading

Comments (0)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Back To Top
Your Cart

Your cart is empty.